Is ‘n ding wat ‘n mens in hier in Wes Afrika in die moeilikheid kan laat beland.
Vanselfsprekend is dit dat almal by ‘n rooi verkeerslig stilhou.
Nie hier nie. Hier beteken ‘n rooi verkeerslig dat motorfietsryers so effens stadiger ry, dalk in die middel van die kruising vir ‘n sekonde net-net stilstaan voordat hulle voortspoed. Dit word aanvaar dat ander padgebruikers van hierdie fenomena behoort te weet en toelatings moet maak om te verseker dat die motorfietsmaniakke lewendig aan die anderkant sal uitkom.
Vanselfsprekend is dit; dat as jy ‘n kraan oopdraai, daar water sal uitkom andersins ten minste dat wanneer die waterlorrie uiteindelik na ‘n dag se angstige gewag sonder water, by die huis opdaag en water in die tenk pomp, dat daar vir ‘n week of twee water sal wees. Twee mense kan laaaank stort in 5000 liter water…
Twee dae later staan ek onder die stort hare net vol sjamposkuim toe die 5000 liter water eensklaps opdroog.
“Agge nee…!”
Klere weer aan. Uit buitentoe. Dalk is dit die pomp. Druk die knoppie – die pomp werk. Hier in Ghana het jy ‘n pomp nodig vir waterdruk. Die gaan so paar sekondes nadat jy die kraan oopgedraai het aan. ‘n Baie innoverende sisteem vir ‘n stad sonder elevasie.
Ek staan en kyk die swart watertenk bo-op die stellasie en wens dat daar ‘n leer was om binne-in te kon sien, maar dis onnodig, want die lorrie was tog mos hier om die tenk vol te maak. Dis mos vanselfsprekend…
Uit frustrasie kap ek teen die platiekpyp wat water huis-in bring. Klang, klang…Dolleeg!
Geen water nie! Vrek!
Soos ‘n tipiese gefrustreerde Gautenger staan ek met wrewel in my hart en wonder hoe die bure ons watertenk leeg gesteel het. Ek stap na die werk se kantoor om met een van die Ghanaians te gaan beraadslaag.
“Alex, somebody stole our water. The tank is empty,” kla ek en die wrewel in my hart by die kantoor.
Die passiewe uitdrukking wat my stelling begroet, is nie wat ek wil sien nie. Ek het aksie nodig. Kom ons gaan sien die bure!
“Madam?”
“Alex, we do not have any water. The water lorrie filled the tank two days ago and now it is empty. Either it is leaking or I think somebody stole it.”
“Oh Madam, no,” kom dit met ‘n glimlag, “The man did not fill it. He only put a little because he did not have enough water. He promised that he will come back tomorrow.”
Vanselfsprekend is dit toe nie dat as ‘n lorrie water intap, die tenk vol is nie
Wel, niks daaraan te doen nie. Met my nat hare stap ek na die plaaslike groentestalletjie
om groente vir die dag te koop. My gewoonlike roete na die MaGina’s het net twee behoorlike sypaadjies in die 15 minute se stap tot daar. Die res van die tyd is ‘n balanseertoertjie op die rand van ‘n oop, onwelriekende afvoersloot en ongeërgde motorbestuurders.
Kleintyd het ‘n mens se ma mooi verduidelik en gewaarsku en indien nodig jou goed gefoeter sodat jou ore gehoor het en jy mooi verstaan het dat motors gevaarlik is en dat jy veilig sou wees indien jy op die sypaadjie bly.
Nie hier nie. Sedert die laaste groot reën in Meimaand het die plaaslike owerheid die slaggate in die strate in ons omtrek reggemaak, maar die herstelwerk was net sekere strate beskore. Die ander, soos die een op my groentetog het so drasties agteruit gegaan dat dit nou vir my leke-oog heeltemal onherstelbaar lyk. Die slaggate is weekliks merkbaar erger en het vergroot sodat daar geen uitdraaiplek is om dit te mis nie. Ek loop ‘n bietjie en dagdroom, want die windjie is koel, die bougainvillas se takke hang swaar van die pienk trosse blomme en ‘n paar parakiete vlieg skree-skree verby. In die heel boontste toppie van ‘n boom sit ‘n Neushoringvoël potsierlik en roep vir geselskap. Dagdroom is toelaatbaar, want ek stap op die sypaadjie soos my ma my geleer het, boonop sonder een of ander oorfoon in my ore!
‘n Rukkie later raak maak my Gauteng-radar my bewus van ‘n motor agter my wat nie verbykom nie. Ek skrik so effens, gaan staan stil en draai om…
Kort op my hakke volg ‘n swart motor gedweë! Veilig is ek toe nou nie op die sypaadjie nie!
Ek tree toe maar uit die pad – gaan staan met my rug teen die muur sodat hy kan verbykom, want hy mis die slaggate sien!
Vanselfsprekend.

Daniël Bezuidenhout
February 9, 2016 at 1:07 pm
Ek wens ons kon ander mense om ons se breinaksie belasbaar maak wanneer ons vir hulle ook moet dink? Dis nou maar so: Akkra ht jy hare op jou tande nodig, en ‘n fyningestelde sewende sintuig!
LikeLike
Daniël Bezuidenhout
February 9, 2016 at 1:09 pm
Reblogged this on Thulana and commented:
Al my besoekers in my blog – hier is ‘n ougat mede Akkra inwoner vanuit Gauteng! Sy’s sommer baie wys en woon net om die hoek van my. As ek voel ek wil myself gaan versuip in ons watertenk, loop ek sommer oor en gaan drink koffie by haar. Sy’s vir my meer werd as diamante…
LikeLiked by 1 person
Johan Grobbelaar
February 10, 2016 at 9:23 pm
Ai Daniël, ek’s al amper 2 jaar weg uit Ghana maar ek sien so alles wat jy skryf. Ek geniet dit verskriklik.
LikeLiked by 1 person
perdebytjie
February 9, 2016 at 1:41 pm
Eish!!Oulik geskryf.Ek is bly jy het ‘n vriendin by wie jy kan afblaas.
LikeLike
Rob Alberts
February 9, 2016 at 2:11 pm
Zonder douche ben ik ‘s morgens en eigenlijk de hele dag niet te genieten.
De regen geeft hier al jaren grote diepe plassen op het wegdek, ik weet niet beter.
Gelukkig stroomt hier gewoon elk moment van de dag schoon water uit de kraan.
Ik begrijp dat u een diamant bent.
Die glanzen gelukkig altijd uit zich zelf, water is daar niet voor nodig ….
Vrolijke groet,
LikeLike
newsferret
February 9, 2016 at 3:39 pm
Ja dis Afrika, ek ken goed van. Sal seker so oor ‘n eeu moontlik bykom.
LikeLike
Jacqueb
April 2, 2016 at 6:57 pm
Mmmm…ek is nie heeltemal oortuig dat dit sal bykom nie? Ons moet maar kyk of ons die begin van noemenswaardige vordering kan bespeur.
LikeLike
Klip
February 10, 2016 at 6:39 am
Aangename kennis ougat mede Akkra inwoner vanuit Gauteng. Ek is Klip van Mpumalanga. Ek skryf nie (want ek kan nie) en ek geniet jou skrywes!! Altyd so verfrissend
LikeLike
Jacqueb
April 2, 2016 at 6:54 pm
Klip ek hoop jy sal nog lank saamkuier!
LikeLike
Tannie Frannie
February 11, 2016 at 6:32 am
Lekker gelees, dankie – aangename kennis!
LikeLike