RSS

Author Archives: Jacqueb

Diefstal 101

Verdomp, verduiwels, verdeksels! Was die geliefkoosde sêding van my standerd drie onderwyser baie jare gelede wanneer die kinders hom tot raserny gedryf het. Dit  verwoord my frustrasie van die laaste paar weke hier in Ghana baie goed. Vir die laaste vier jaar vertel ons vir almal wat wil luister dat ons so veilig hier is.

“Was dit nie vir muskiete en sinnelose motorbestuurders nie, kon ‘n mens saans straat-af stap om te gaan roomys eet’” het ons vir baie mense gesê.

 “Ek loop gereeld om groente te gaan koop, geen probleem nie.”

“Nee wat, dis nie nodig om ‘n alarm in die huis te hê nie, dis baie veilig.”ghana-polisie

Wel, so vang slim toe nou sy baas. ‘n Maand gelede stap ek soos gebruiklik om te gaan groente koop. Baie paraat voordat ek die huis verlaat, besluit ek om nie ‘n groot handsak te neem nie en ook nie ‘n beursie nie – net geld en die selfoon in ‘n klein skouersakkie. Die selfoon sodat ek my man kan bel  ingeval ek dalk die sypaadjie mistrap en êrens in ‘n oop dreineringsloot bly lê. Twintig minute later is ek met twee halwe plastieksakke groente op pad terug toe ‘n opportunistiese motorfietsryer my handsak van agter van my skouer af gryp en rustig wegry. My hulpkrete beweeg die voetganger wat by die kruising gedwee wag dat die dief by hom verbyry nie tot enige aksie nie. Die blingplakkies aan my voete is baie hinderlik toe een-en-vyftigjarige ek die misdadiger probeer inhardloop. Vyf minute later huil ek in man se arms en probeer hy my oortuig dat my welstand baie belangriker as die verlore selfoon is. By die plaaslike polisiestasie lê ons verklarings by twee verskillende geregsdienaars af. Die laaste klim saam met ons in die motor om te kom kyk waar die insident plaasgevind het. Polisiemotors is nie ‘n vanselfsprekendheid nie.

Die volgende oggend vyfuur bel my pa ons wakker en gee ‘n Ghana nommer wat ons moet skakel. Die man het glo my foon. Die vorige aand het hy deur my kontakte geblaai en die enigste Afrikaans wat vir die Ghanees sin gemaak het, was Mamma. Hy skakel toe vir Mamma en weet te vertel dat hy nie geweet het hy koop ‘n gesteelde foon nie. Gmf! Ons kan hom kontak om my slimfoon met die groen oortreksel terug te koop! Ek is gek oor my foon – dit was ‘n Kersgeskenk van my man drie jaar gelede en dis dié manier van kontak met my liefste mense in Suid-Afrika. Ons onderhandel toe so ‘n keer of wat, maar die dief se realistiese vrees dat ons hom in die proses vir die polisie gaan voer, kry die oorhand. ‘n Paar dae later seën my man my met ‘n nuwe foon en my ekwilibrium is herstel.

Tot twee weke gelede. Saterdagoggend staan ons vroeg op om vyfuur lughawe toe te vertrek vir ‘n wegbreeknaweek aan die Weskus. Met my vinnige drafstap teen die trap af vir vroeë koffie, sien ek ‘n oop venster. Ek onderdruk die onrus wat dadelik probeer nesskop en skuif die venster op knip. Met die wegdraai, sien ek nóg ‘n oop venster en wéét dat hier moeilikheid is. Die agterdeur staan wawyd oop. Die diewe is by die balkon op, deur die vensters sonder diefwering en by die agterdeur uit met die televisie en my man se rekenaarsak. Die rekenaarsak is natuurlik ‘n fonds op sy eie met rekenaar, tablet, iPod, beursie en paspoort.

Die geoefende,  selfversekerde diewe het die nodige drade netjies uitgeprop – nie geknip soos tevore met ons in Suid-Arfika gebeur het nie én hulle het onthou om die regter afstandbeheer saam te neem! ‘n Uur later, terwyl ons wag vir vervoer na die polisiestasie toe, stap my man ‘n draai buite en kry ‘n swart inkopiesak onder die Bougainvilla met die inhoud van sy beursie, sonder die kontant natuurlik, paspoort en besigheidskaartjies. Vriendelike Ghanese diewe nê?

Ja, nou voel die huis Suid-Afrikaans bekend, diefwering, alarm met reaksie-eenheid…verdomp, verduiwels, verdeksels!

 
6 Comments

Posted by on October 1, 2016 in Uncategorized

 

Tags: , , , , ,

Nuus

images[6]

 

Die ding van expat wees is dat ‘n mens nie noodwendig so op hoogte met jou vaderland se nuus bly nie. Dit kan as gevolg van omstandighede wees. Daar is immers nie koerantplakkate teen hierdie lamppale wat Suid-Afrikaanse nuus verkondig nie en wat jou dan nuuskierig genoeg maak sodat jy die koerant by die volgende verkeerslig koop nie. Dalk is die dataverbinding derdehands sodat elektroniese nuus baie skaars is. Verder is kuiertyd hier nie eksklusief met Suid-Afrikaners wat ‘n goeie bron van nuus kan wees nie. Meer dikwels is daar ‘n Brit, Australianer, Kanadees en ‘n Amerikaner of twee saam om die tafel sodat nuus uit Suid-Afrika nie hoog op die gesprekagenda is nie.

Dan is daar natuurlik keuse. Goed of sleg kies ek om so effens terug te staan en nie elke dag Suid-Afrikaanse nuus te gaan sóék nie. Ek maak darem periodiek ‘n draai op nuus webwerwe om so effens op hoogte van sake te bly.  Dít het noodwendig tot gevolg dat ek soms oor ou nuus opgewonde, omgekrap of witwarm-kwaad word.

Hierdie keer het die nuus egter na my gekom deur ‘n vinnige draai op die Al Jazeera kanaal en dis toe een van die kere wat my mond spreekwoordelik, later letterlik, oophang met die luister na die program en toe met die lees van ‘n paar artikels op die internet. Ek gaan soek bietjie verder om doodseker te maak dat die joernaliste nie die stories uit die lug gryp nie – hoor en sien toe eerstehands die onsin, gebrek aan opleiding, opvoeding en gesonde verstand van ‘n betrokke COO op youtube. Ek wil lag, kwaad word, nie glo wat ek sien en hoor nie, alles gelyk, maar woorde het ek nie…..

Kyk eerder self.

 

https://youtu.be/Rc-3Idc6YnU

 
4 Comments

Posted by on July 7, 2016 in Uncategorized

 

Tags: , , ,

Location, location

ghana vlag

Ek is al drie weke terug in Accra, Ghana, maar volgens my slimfoon is ek steeds in Tembisa buite Pretoria. In Pretoria was ek wél, maar Tembisa nog nooit. Die befaamde CSI agente van die televisieprogram wat ek so getrou kyk, gaan ver na my soek as hulle op my selfoon se “location” vertrou.

Noodwendig beteken expat-wees dat ‘n mens nie altyd op dieselfde plek is nie. Dis somtyds simpel-sleg. As ‘n mens hier is, verlang jy na Suid-Afrika en as jy daar is, voel jy soms ook maar vreemd en uit plek. Ek sal altyd aan Suid-Afrika en spesifiek aan Pretoria as my huis dink. Maar elke keer as ek ná ‘n besoek aan Suid-Afrika hier in die huis instap, voel dit ook soos tuiskoms. En dan voel ek soms so effens skuldig. Hoekom? My skoonma sê dat ‘n vrou met ‘n skuldgvoel gebore word. ‘n Vorige, belese kollega van my man het hierdie alomteenwoordige skuldgevoel aan ons Afrikaners se Calvinistiese opvoeding toegeskryf. Dalk is dit skryfkos vir ‘n ander dag.

Jacaranda_Trees_Pretoria

Twee Saterdae gelede is ons by ‘n St Patrick’s dag kuier hier naby. Tipies soos sulke kuiers hier verloop, kan ‘n mens slegs met die mense aan die tafel gesels totdat die orkes begin speel. Die algemeen aanvaarde reël vir enige orkesoptrede is dat dit so hard as moontlik moet wees. Dit veroorsaak dat ‘n mens vreemde mense wat jy 15 minute gelede ontmoet het se persoonlike ruimte tot op die intieme vlak moet binnedring om in mekaar se ore te skree. Die alternatief, almal om die tafel sit en staar voor hulle uit, glimlag wanneer iemand oogkontak maak en drink meer as wat hulle beplan het. Wag vir stilte tussen liedjies sodat jy verder kan gesels en jy gaan lánk wag.  Een liedjie vloei in die ander vir ‘n uur of meer. Goeie waarde vir geld vir die organiseerders, maar moeilik vir die gaste – of dalk Westerse gaste. Voordat die orkes begin speel het, het ons darem die standaard aanknopingspunte soos: “Hoe lank is julle al hier?” en “Waarvandaan is julle oorspronklik?” gedoen gekry. Onder die raserige musiek deur het my man, wat brawer as ek in sulke situasies is, verder geskree –gesels en gehoor dat dié twee jongmense ‘n heel unieke lewensbeskouing het. Hulle het besluit dat hulle professionele expats is. Hy, ‘n Australiër, het sy vrou, ‘n Kanadees ontmoet toe hy daar gewerk het. (Voordat hy daar aangeland het, was hy orals.)  Nie een van die twee is gepla deur die feit dat hulle mense letterlik op die uithoeke van die aardbol van mekaar bly nie. Hulle hoop om teen die einde van die jaar in Suid-Afrika, spesifiek Johannesburg te kan wees indien sy werksaansoek suksesvol is. Hulle sal  ‘n regmerkie langs Ghana maak as nóg ‘n land waar hulle was.

‘n Australiese paartjie met ‘n dogtertjie van vyf jaar oud en woonagtig in Bogoso, ‘n klein dorpie in die Weste van Ghana, verklaar ook dat hulle gaan waar daar werk is. Die feit dat hulle nie ‘n huis in Australië het om na toe terug te keer nie, is geen probleem nie.

Suid-Afrikaanse vriende met kinders hier in die laerskool, bly so hier en daar by familie en vriende wanneer hulle terug op vaderlandsgrond is. Die meubels en ander kosbare aardse besittings is in ‘n stoor of twee.

Sommige het die huis se deur toegetrek en hierheen gekom. Familie bly in die huis of dit word deur getroue bure of vriende opgepas. Wanneer daar ‘n kans vir ‘n besoek aan Suid-Afrika is, het hulle ‘n eie, bekende tuiskomplek omring deur alle aardse bekendheid.

Dit neem ‘n rukkie om in pas te kom met ‘n nuwe land se ritme, maar ek het geleer dat dit nie saakmaak wat my slimfoon sê nie, ék weet wat my “location” is. Dis waar my man is en my kinders en my ouers. Dis noodwendig verskillende tye en plekke, maar hoe bevoorreg is ek nie? Ek kan by meer as een plek in twee verskillende lande my skoene uitskop.  ‘n Huis is stene en sement, maar tuiswees is om te wees saam met die liefste mense in my lewe.

tracker

 
10 Comments

Posted by on April 1, 2016 in Uncategorized

 

Tags: , , , , , , , ,

Badkamerblues: Vers 2…

Toe ek die laaste woorde in Badkamerblues vers 1 gedink het, moes daar êrens Afrika-engele gewees het wat gesamentlik gesug het en hulle koppe oor my naïwiteit geskud het. Deels omdat géén bouprojek, groot of klein, ooit sonder slag of stoot verloop nie en verder omdat hierdie feit die potensiaal het om eksponensieël erger te wees in Afrika.  Hier stel ‘n mens jouself oop vir hartmoeilikheid as jy op kleinskaal bou en breek of as jy jou ore uitleen vir mense wat eintlik net so min as jyself weet.

engele

Net mooi die einste middag na werk verklaar my man die teëls in ons badkamer skeef en begin die teler dit uit die nat sement lig. Terwyl ek hom staan en dophou, is ek dankbaar vir die 80% humiditeit in Accra, want genadiglik word die sement nie so vinnig droog nie. Deur die loop van die volgende dag maak hulle die een badkamer klaar en begin die ander voorberei. Dit blyk dat hulle die verwagte standaard onder die knie het, want die lyne van die vloerteëls lê mooi en ek is dankbaar.  Dankbaar vir die kans dat die teëlwerk teen die naweek voltooi behoort te wees waarna die loodgieter sy deel in die volgende week kan kom doen en daarna kan ons intrek! Wonderlike gedagte!

Die volgende dag met etenstyd, stap ons om na die vordering te gaan kyk. Ek staan in die voltooide badkamer toe ek hoor dat dinge nie só gemaklik in die ander een is nie. Op pad daarheen hoor ek hoe ontstig my man met die teler praat.  Toe ek om die badkamerdeur kyk, word ek duislig. Die teëls is só skeef dat dit voel asof ‘n mens op ‘n sinkende skip staan. Die hele spulletjie hel oor na stuurboord. Onwillekeurig trek my kop skeef soos my oë die lyne volg terwyl my lyf probeer regop bly. Dit is, óf ‘n optiese illusie óf ek het weer binne-oorontsteking, soos jare gelede. Maar nee…die hele spulletjie is vrééslik skeef.

crooked lines

Gróót moeilikheid! My man gryp die waterpas om te verduidelik sodat die telers mooi verstaan…net om uit te vind dat die ding glad nie werk nie! Die reguit lyne-wonderwerk in die eerste badkamer is omdat die huisbouer jare gelede die venster reguit geïnstaller het – die telers het net die lyn gevolg en die eerste badkamer met redelike sukses voltooi. In die huidige badkamer is die venster ooglopend besonder skeef – vandaar dat die teëls toe die badkamer tot skip-sink proporsies laat oorhel het. Wéér word die teëls uit nat sement gelig en verskuif ek my intrekdatum…

Twee dae later is die teëls reguit en die loodgietertjie kom weer aanmeld. Ek gaan koop die toilette, storte en krane en begin solank meubels in die res van die huis indra en regskuif.  Hiérdie naweek het ons ‘n huis om in te bly! Hiérdie naweek kan ons ‘n vleisie braai en wyn drink hier in die vreemde Accra, net omdat ‘n mens dit in Suid-Afrika op ‘n Saterdag doen…

Vrydagmiddag twee uur kom staan die loodgietertjie plegtig op aandag om te sê dat die werk klaar is. Hy het alles getoets – alle krane en stortkoppe werk. Ek bedank die nederige jongman en maak met ‘n sug van verligting die voordeur agter hom toe. Met die verbystap kombuis toe, wonder ek waar die nat kol op die nuwe sitkamerbank vandaan kom en vee dit sommer so terloops met my hand van die kunsleer af. Ek is in die kombuis besig om glase uit te pak toe die huishulp met ‘n boks vol bak panne in haar arms, verklaar dat iemand water op die sitkamervloer gemors het, wat sy opgedroog het. ‘n Klein onrustigheidjie kom sit in my binneste en ek stap sitkamer toe.  O! Dierbaarheid! Voorwaar, die dak lek! Terwyl ek na die dak staan en kyk, sien ek hoe ‘n paar druppels langs ‘n nat strepie vorm en begin drup. ‘n Paar sentimeter verder is daar nog ‘n nat strepie wat begin drup…verder aan nóg een.

Die klein onrustigheidjie is nou groter en het ‘n naam – iets in die nuwe badkamer op die boonste vloer lek! Die bediende bring die besem met ‘n lap oor en vee die dak droog.  Saam staan ons en kyk hoe die nat strepies weer druppeltjies vorm.  Sommige daarvan het nou gevorder tot ‘n aanhoudende gedrup.  Sy bring ‘n handdoek en lê dit neer om ‘n paar strepies se druppels op te vang.

“Nee, wat, dis net water wat êrens deurgesyfer het nadat die loodgieter al die krane getoets het”, praat ek myself moed in.

‘n Uur later “reën” dit in ons sitkamer en is  die hele plek vol handdoeke en twee skottels onder die ergste lekke om al die water op te vang.  Die nuwe bank is in die eetkamer en die televisie en kas heeltemal weggeskuif. Toe my man na werk opdaag het ek nie meer moed nie en is my Ghana-positiwiteit by die deur uit.  Ek is vies, benoud en moedeloos….

Deur die naweek het die druppende water al hoe meer geword. Handdoeke was óf op die vloer óf in die tuimeldroër. Die plaaslike boustene – groot reghoekige blokke met groot gate in wat op straat gemaak en in die son gedroog word, het die lekkende water ongehinderd laat vloei. Ek en manlief het al hoe desperater en kwater geword hoe verder die naweek gevorder het. Maandag kon nie gou genoeg aanbreek nie.

Stene fabriek

Teen ongeveer twee-uur Maandagmiddag arriveer hulp in die vorm van ‘n ander loodgieter, aanbeveel deur een van die personeellede.  Hy doen, anders as die jong loodgietertjie, reeds jare lank werk vir verskeie mense in die area.  Hy kap die splinternuwe, duur teëls af om te sien wat aangaan. Teen hierdie tyd gee ek nie eers meer om oor die mooi gordyne en nuwe handdoeke wat ek so graag wou gehad het nie! Soos wat hy teëls stukkend kap, so spuit water uit beskadigde pype en koppelings!  Die jong kamma-loodgietertjie se verswygde onvermoë al te duidelik!

Die redding in ons Ghanese badkamerblues? Die ervare loodgieter wat nuwe pype en koppelings behoorlik verseël het en waaroor nuwe teëls na nóg ‘n week netjies droog was.

En volgende Saterdag? Lekker skaaptjoppies op die kole al die pad van Suid-Afrika af gekarwei sonder kommer oor druppende water in die sitkamer.

Verder moet ek net sê: my man hét vir ons móói badkamers gebou.

 
1 Comment

Posted by on September 30, 2015 in Uncategorized

 

Tags: , , , , ,

Vanselfsprekend

Is ‘n ding wat ‘n mens in hier in Wes Afrika in die moeilikheid kan laat beland.

Vanselfsprekend is dit dat almal by ‘n rooi verkeerslig stilhou.

Nie hier nie. Hier beteken ‘n rooi verkeerslig dat motorfietsryers so effens stadiger ry, dalk in die middel van die kruising vir ‘n sekonde net-net stilstaan voordat hulle voortspoed. Dit word aanvaar dat ander padgebruikers van hierdie fenomena behoort te weet en toelatings moet maak om te verseker dat die motorfietsmaniakke lewendig aan die anderkant sal uitkom.

Vanselfsprekend is dit; dat as jy ‘n kraan oopdraai, daar water sal uitkom andersins ten minste dat wanneer die waterlorrie uiteindelik na ‘n dag se angstige gewag sonder water, by die huis opdaag en water in die tenk pomp, dat daar vir ‘n week of twee water sal wees. Twee mense kan laaaank stort in 5000 liter water…

Twee dae later staan ek onder die stort hare net vol sjamposkuim toe die 5000 liter water eensklaps opdroog.

“Agge nee…!”

Klere weer aan. Uit buitentoe. Dalk is dit die pomp. Druk die knoppie – die pomp werk.  Hier in Ghana het jy ‘n pomp nodig vir waterdruk.  Die gaan so paar sekondes nadat jy die kraan oopgedraai het aan.  ‘n Baie innoverende sisteem vir ‘n stad sonder elevasie.

Ek staan en kyk die swart watertenk bo-op die stellasie en wens dat daar ‘n leer was om binne-in te kon sien, maar dis onnodig, want die lorrie was tog mos hier om die tenk vol te maak.  Dis mos vanselfsprekend…

Uit frustrasie kap ek teen die platiekpyp wat water huis-in bring. Klang, klang…Dolleeg!

Geen water nie! Vrek!

Soos ‘n tipiese gefrustreerde Gautenger staan ek met wrewel in my hart en wonder hoe die bure ons watertenk leeg gesteel het. Ek stap na die werk se kantoor om met een van die Ghanaians te gaan beraadslaag.

“Alex, somebody stole our water. The tank is empty,” kla ek en die wrewel in my hart by die kantoor.

Die passiewe uitdrukking wat my stelling begroet, is nie wat ek wil sien nie. Ek het aksie nodig. Kom ons gaan sien die bure!

“Madam?”

“Alex, we do not have any water. The water lorrie filled the tank two days ago and now it is empty. Either it is leaking or I think somebody stole it.”

“Oh Madam, no,” kom dit met ‘n glimlag, “The man did not fill it. He only put a little because he did not have enough water. He promised that he will come back tomorrow.”

Vanselfsprekend is dit toe nie dat as ‘n lorrie water intap, die tenk vol is nie

Wel, niks daaraan te doen nie. Met my nat hare stap ek na die plaaslike groentestalletjie 20150716_122813om groente vir die dag te koop.  My gewoonlike roete na die MaGina’s het net twee behoorlike sypaadjies in die 15 minute se stap tot daar. Die res van die tyd is ‘n balanseertoertjie op die rand van ‘n oop, onwelriekende afvoersloot en ongeërgde motorbestuurders.

Kleintyd het ‘n mens se ma mooi verduidelik en gewaarsku en indien nodig jou goed gefoeter sodat jou ore gehoor het en jy mooi verstaan het dat motors gevaarlik is en dat jy veilig sou wees indien jy op die sypaadjie bly.

Nie hier nie. Sedert die laaste groot reën in Meimaand het die plaaslike owerheid  die slaggate in die strate in ons omtrek reggemaak, maar  die herstelwerk was net sekere strate beskore. Die ander, soos die een op my groentetog het so drasties agteruit gegaan dat dit nou vir my leke-oog heeltemal onherstelbaar lyk. Die slaggate is weekliks merkbaar erger en het vergroot sodat daar geen uitdraaiplek is om dit te mis nie. Ek loop ‘n bietjie en dagdroom, want die windjie is koel, die bougainvillas se takke hang swaar van die pienk trosse blomme en ‘n paar parakiete vlieg skree-skree verby. In die heel boontste toppie van ‘n boom sit ‘n Neushoringvoël potsierlik en roep vir geselskap. Dagdroom is toelaatbaar, want ek stap op die sypaadjie soos my ma my geleer het, boonop sonder een of ander oorfoon in my ore!

‘n Rukkie later raak maak my Gauteng-radar my bewus van ‘n motor agter my wat nie verbykom nie. Ek skrik so effens, gaan staan stil en draai om…

Kort op my hakke volg ‘n swart motor gedweë! Veilig is ek toe nou nie op die sypaadjie nie!

Ek tree toe maar uit die pad – gaan staan met my rug teen die muur sodat hy kan verbykom, want hy mis die slaggate sien!

Vanselfsprekend.

20150716_122728

 
10 Comments

Posted by on September 13, 2015 in Uncategorized

 

Tags: , , ,

Badkamerblues: Vers 1…

My man het ‘n ding oor ‘n badkamer. Eintlik oor ander vertrekke ook, maar dis gewoonlik ‘n badkamer wat hom eerste vang. Dis die eerste vertrek wat, nadat ons in ‘n nuwe huis ingetrek het, sy kreatiewe self laat regop sit en wat onvermydelik tot uitbreek van baddens, die afbreek van mure en die afkap van teëls lei.

Onverpoos tower hy rekenaarplanne op en spandeer ons Saterdae in badkamerwinkels om krane en stortkoppe se goed en sleg te vergelyk.

Ons Ghanese huis was niks veskillends nie. Ek het nuwe gordyne en beddegoed gedroom en hy nuwe badkamers.

“Ek gaan vir jou móói badkamers maak. Daar sal genoeg geld vir nuwe gordyne ook wees,” belowe hy.

Die volgende dag daag ‘n nutsman-teler-bouer op om te kwoteer. Na ligte prysonderhandelings breek hy en ‘n handlanger baddens, wasbakke, toilette en teëls uit die twee badkamers en gooi alles op ‘n hoop voor die voordeur.

Ja, regtig. Hierna klim almal oor die hoop bourommel om in die huis te kom.

Die nutsman vertrek na sy afbreekwerk met ‘n belofte om terug te keer nadat die loodgieter se werk agter die rug is.

In die leë badkamers word ‘n bloedjong loodgietertjie op aandrang van madam Fafa losgelaat. Hy moet pype verlê en nuwe koppelings maak. Die jongman is gekwalifiseer, verseker sy ons, maar sonder ‘n vaste werk. Vandaar dat hy soggens eers haar en ‘n vriendin se huise skoonmaak voordat hy sy lyf by ons kom loodgieter hou. My vroeg- opstaan-vroeg-begin-vroeg-klaarmaak manier van dinge doen gaan toe nou nie hier werk nie. O, Afrika gaan my omtiep!

“Ek hou van die jongman. Hy is stil, respekvol en dit lyk asof hy sy werk goed doen,” verklaar my man na dag twee.plumber

“Kom, ek wil jou die teëls gaan wys wat ek gekies het.”

Twee keer hoef hy my nie te nooi nie. Ek is twee weke al in ‘n nuwe land, nuwe stad, het geen huis nie en is moeg daarvan om in sy kantoor te sit en lees.

Met Lawrence agter die motor se stuur op pad na die badkamerwinkel sit ek en kyk na die vreemdheid buite die motorvenster. Alles is anders. Honderde motors beweeg teen ‘n slakkepas met baie min erg aan gewone verkeersreëls. Rooi verkeersligte geld klaarblyklik nie vir motorfietsryers nie en ‘n straat gemaak vir twee bane word vyf.

By verkeersligte kan mens selfoonlugtyd, elektriese proppe, skoenpolitoer, lugverfrissers, geskilde waatlemoen, papaja, lemoene en les bes klein hondjies koop.  Keurig gestapelde grondboontjies word met ‘n geoefende hand uit ‘n groot skottel op ‘n vrou se kop geskep, in ‘n sakkie gegooi en aan taxi-insittendes verkoop. ‘n Ander verkoop sakkies water uit ‘n soortgelyke skottel en ‘n derde gedroogde piesangs – of so lyk dit altans vir my. Hierdie vreeslose vrouens gee partykeer net een non-chalante tree na links of regs uit die pad van ‘n aankomende motor.

AccraPurewater_600_450_80

Soms maak een van hulle haar rug net so effens hol om ‘n motorfiets verbykomkans te gee en hou aan handeldryf uit die balanserende skottel op haar kop.Tussen alles deur vreet die oulikste bergbokkies van onsekere herkoms op die beknopte sypaadjies aan enigiets naastenby eetbaars en draai hulle gedweë van tussen motors terug wanneer iemand ‘n toeter druk.

Ek weet nie eintlik wat ek verwag het nie, maar die moderne badkamerwinkel waar ons na ‘n uur se gekruip deur die verkeer aangekom het, was ‘n verrassing.

Pragtige, moderne teëls, baddens, toilette en krane – enigiets wat ‘n kreatiewe badkamerbeplanner soos my man se hart begeer.

Ek oe en aa oor die mooi teëls en kraankurwes en sien in die proses al hoe minder nuwe gordyne op my horison, want alles is drie keer duurder as in Suid-Afrika.

Na twee ure in die winkel het ons alles. Goedkoperige toilette en wasbakke, duur krane en baie duur teëls. Ek sal alles so met verdrag kom aankoop soos dit nodig word.

‘n Paar dae later verklaar die loodgietertjie dat sy taak voltooi is totdat die teler sy deel kom doen het.

Die oorspronklike nutsman-teler-bouer het intussen na ‘n ligtelike loon dispuut besluit om nie terug te kom nie. ‘n Nuwe teler daag vanuit die niet op – so voel dit vir my –  en pak die taak teen Afrikaspoed aan.

“My vrou, jy met jou oog oor die teler gaan hou. Ons kannie skewe lyne hê nie.”

Ag, jetetjie tog! Ek verpes ‘n bouery en teëls en alles wat daarmee gepaardgaan. Ek sal ‘n sentimeter skewe teël mis terwl manlief oor 2 milimeter al menige teler se moed in sy skoene laat sak het omdat hy moes afbreek en oorbegin.

Gelukkig lyk dit darem vir my hierdie keer asof die paar geplakte teëls teen ons badkamermuur reguit is. Ek is ook beïndruk toe ek sien dat dat die teler ‘n waterpas gebruik voordat hy die volgende teël vasplak. Ag, dankie tog! Hier is nou die een projek wat sonder moeilikheid sal verloop. Vol moed stap ek terug kantoor toe om die goeie nuus te rapporteer…

 
2 Comments

Posted by on August 19, 2015 in Uncategorized

 

Tags: , , , , , , , ,

Womens’ Day

Womens' Day

To all the women who colour my life in so many different ways.

May you believe:

That you make a difference in the lives you touch

That God made you wonderful

That you have the skills to travel the road you are on

That only you can be the best you there is.

May you know without a doubt that you are special

In the words of Sophia Loren:

“Nothing makes a woman more beutiful than the belief that she is beautiful.”

 

 
2 Comments

Posted by on August 7, 2015 in Uncategorized

 

Tags: , , , , , , , , ,

Naaldwerk Taxi

Osu, Accra

Osu, Accra

‘n Nuwe naaldwerkprojek dwing my na Osu op ‘n Maandagmiddag.  Osu, die area in Accra waar dinge gebéúr. Die veelbesproke dínge hang natuurlik af van die spreker se persoonlike voorkeure en spesifieke situasie. Kommersiële, restaurant en naglewe spilpunt in Accra met kleurvolle handelsware op straat gesmous deur knaende verkopers.

Na drie jaar dink ek steeds soms dat dit wat ek nodig het sommer net gou-gou opgespoor gaan word en dat die tyd daarheen en terug ‘n weglaatbare klein faktor in die groot prentjie sal wees.  Hierdie keer, net soos al die ander kere tevore kom ek my Moses teë, want niks is ooit gou of eenvoudig hier nie. Vanmiddag is ook geen uitsondering nie.  Geen verkeersligte op pad werk nie en dit lyk asof die mense wat nie op pad na Osu is nie, reeds daarbinne is. Dit voel na meer as gewone chaos met meer as gewone heen-en-weer, kort, vinnige drafstappies en holrugmakery om tussen motors deur te kom. By die eerste naaldwerkwinkel sien ek sommer dadelik op die eienares se gesig hoe die growwe, geel, ritssluiter ewe skielik in bladgoud in haar gedagtes verander toe ek die prys vra. Sestig Rand? Rêgtig? Ek drafstap uit by die deur, spring oor ‘n sloot waaruit die gewone middaghitte die slegte reuk soos ‘n gordyn laat opwalm , skuur tussen twee motors deur, haal vinnig en vlak asem by die visstalletjie verby en waai vir Samson tussen die mooi leerhandsakke op pad na die tweede bron van naaldwerkplesier.

Leerhandsakke Hier spoor ek na baie rondkrap tussen stowwerige voorraad waarvan die eienares al jare terug vergeet het, my hartsbegeertetjies op.

In ‘n taxi na ‘n onderhandelde GHc15 op pad terug huis toe. Met die inklim besef ek weereens dat vanselfsprekende veiligheid, die uitsondering is. Ek moet die sitplekgordel onder die sitplek uitgrawe, dieselfde geld vir die plek waar dit moet indruk. Die knoppie is só verweer en flenters dat dit ‘n wonder is dat dit werk. Ek betwyfel die ruk-stop meganisme van die hele spulletjie, maar sit biddend stil langs die bestuurder. Kruipend oor kruisings beman deur vaak polisiemanne wat die effens geordende chaos totaal deurmekaar maak, is gelyk aan baie tyd wat ek met ‘n dosis klipharde musiek en ‘n skree-preek gebreinspoel word. ‘n Stukkie wysheid wat ek by die skreepredeker hoor is dat die ou tradisionele leiers en -hoofde nooit tronke gebou het nie. Tronke is deur die koloniale onderdrukkers gebou. En die res van die skreepreek kon ek nie volg nie, want hy skree toe verder in Twii en oor Paulus lei ek af.

Wat sou die hoofmanne destyds dan nou met moordenaars en diewe gedoen het? Van ‘n krans af gegooi? Lewendig begrawe?

‘n Entjie verder toe ek met toe oë en stywe maagspiere besef ons mik vir ‘n spasie te klein vir ‘n Smartcar, hoor ek ‘n harde sshhhhh gevolg deur ‘n baaffff!  Dieselfde tyd wat ek my oë oopmaak en die stoom by die enjinkap sien uitborrel sê die bestuurder: “Serious?”

“Oh Sir, your car is too hot, it is boiling, it needs water”, help ek.

“Ah, ah”, is al reaksie van die man.

Hy kruip steeds aan in die ry na die vaak polisieman in die middel van die kruising. Toe die verkeer weereens tot stilstand kom, klim hy uit en lig so terloops die enjinkap ongeveer tien sentimeter op, loer in en laat dit weer val.

Ek sit en wonder hoeveel van die fooi ek moet betaal as ek van hier af ‘n nuwe geleentheid moet soek. Beslis nie alles nie, maar foei tog, sy kar is stukkend en daar is sekerlik honger kinders by die huis. Nee, ek hoef nog nie ‘n ander taxi te soek nie, want steeds ry ons. Ek bied weer hulp aan en beduie ‘n pad met min verkeer, maar my hulp bly onnodig. ‘n Paar honderd meter verder draai ons by die garage in. Ek voel beter, want nou sal hy water ingooi, die enjin se binnegoed sal hou.

“I stop for fuel”, deel hy my mee.

“And water”, sê ek.

Wagtend by die garage merk ek die Jesusprentjie wat aan die truspieëltjie hang. Verweer deur die son, ‘n boodskap in ‘n plaaslike taal op die agterkant. Onderaan in klein skrif: Saintscents met ‘n Yahoo adres. Rêrig? ‘n Jesuskaartjie wat die kar laat lekkerruik? En seker nog ander heiliges ook as jy sou wou? Moet jy bid elke keer as jy die reuk kry? Of herinner dit ‘n mens dat soos die geur die kar vul, so is Jesus se genade en liefde om jou, die hele tyd?

Voorwaar ry ons by die garage weg sonder water. Weer in die verkeer, wel stadiger as tevore.

“The tank, it blew up. All the water came out.”

“Yes, I know, your car needs water.”

Steeds ry ons.

“Sir, you can stop here, thank you,” bied ek ‘n rukkie later aan.  Meer as bereid vir ‘n entjie se stap met my klein sakkie naaldwerkskatte. Stilweg hoop ek dat hy water by die nabye stalletjie sal koop om in die hittige enjin te gooi.

Steeds blyk dit nie nodig te wees nie, want hy ry teen dieselfde stadige pas verder en beduie vir ‘n man langs die pad of hy nie dalk ‘n taxi nodig het nie.

Nógeens het ek ‘n ondervindingskat in my Ghana boksie. Kannie wág om my man te vertel nie – maar nou eers vir die naaldwerk…

 

 

 
3 Comments

Posted by on August 2, 2015 in Uncategorized

 

Tags: , , , , ,

Hello world!

Hello World!

This is me, ticking something off my bucket list – having a blog.  How blessed am I?

Come and enjoy the ride with me.

 
Leave a comment

Posted by on July 28, 2015 in Uncategorized

 
 
Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Tannie Frannie

My terapie vir oudword

Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Thulana

Almal om my is gek...

Design a site like this with WordPress.com
Get started