Toe ek die laaste woorde in Badkamerblues vers 1 gedink het, moes daar êrens Afrika-engele gewees het wat gesamentlik gesug het en hulle koppe oor my naïwiteit geskud het. Deels omdat géén bouprojek, groot of klein, ooit sonder slag of stoot verloop nie en verder omdat hierdie feit die potensiaal het om eksponensieël erger te wees in Afrika. Hier stel ‘n mens jouself oop vir hartmoeilikheid as jy op kleinskaal bou en breek of as jy jou ore uitleen vir mense wat eintlik net so min as jyself weet.
Net mooi die einste middag na werk verklaar my man die teëls in ons badkamer skeef en begin die teler dit uit die nat sement lig. Terwyl ek hom staan en dophou, is ek dankbaar vir die 80% humiditeit in Accra, want genadiglik word die sement nie so vinnig droog nie. Deur die loop van die volgende dag maak hulle die een badkamer klaar en begin die ander voorberei. Dit blyk dat hulle die verwagte standaard onder die knie het, want die lyne van die vloerteëls lê mooi en ek is dankbaar. Dankbaar vir die kans dat die teëlwerk teen die naweek voltooi behoort te wees waarna die loodgieter sy deel in die volgende week kan kom doen en daarna kan ons intrek! Wonderlike gedagte!
Die volgende dag met etenstyd, stap ons om na die vordering te gaan kyk. Ek staan in die voltooide badkamer toe ek hoor dat dinge nie só gemaklik in die ander een is nie. Op pad daarheen hoor ek hoe ontstig my man met die teler praat. Toe ek om die badkamerdeur kyk, word ek duislig. Die teëls is só skeef dat dit voel asof ‘n mens op ‘n sinkende skip staan. Die hele spulletjie hel oor na stuurboord. Onwillekeurig trek my kop skeef soos my oë die lyne volg terwyl my lyf probeer regop bly. Dit is, óf ‘n optiese illusie óf ek het weer binne-oorontsteking, soos jare gelede. Maar nee…die hele spulletjie is vrééslik skeef.
Gróót moeilikheid! My man gryp die waterpas om te verduidelik sodat die telers mooi verstaan…net om uit te vind dat die ding glad nie werk nie! Die reguit lyne-wonderwerk in die eerste badkamer is omdat die huisbouer jare gelede die venster reguit geïnstaller het – die telers het net die lyn gevolg en die eerste badkamer met redelike sukses voltooi. In die huidige badkamer is die venster ooglopend besonder skeef – vandaar dat die teëls toe die badkamer tot skip-sink proporsies laat oorhel het. Wéér word die teëls uit nat sement gelig en verskuif ek my intrekdatum…
Twee dae later is die teëls reguit en die loodgietertjie kom weer aanmeld. Ek gaan koop die toilette, storte en krane en begin solank meubels in die res van die huis indra en regskuif. Hiérdie naweek het ons ‘n huis om in te bly! Hiérdie naweek kan ons ‘n vleisie braai en wyn drink hier in die vreemde Accra, net omdat ‘n mens dit in Suid-Afrika op ‘n Saterdag doen…
Vrydagmiddag twee uur kom staan die loodgietertjie plegtig op aandag om te sê dat die werk klaar is. Hy het alles getoets – alle krane en stortkoppe werk. Ek bedank die nederige jongman en maak met ‘n sug van verligting die voordeur agter hom toe. Met die verbystap kombuis toe, wonder ek waar die nat kol op die nuwe sitkamerbank vandaan kom en vee dit sommer so terloops met my hand van die kunsleer af. Ek is in die kombuis besig om glase uit te pak toe die huishulp met ‘n boks vol bak panne in haar arms, verklaar dat iemand water op die sitkamervloer gemors het, wat sy opgedroog het. ‘n Klein onrustigheidjie kom sit in my binneste en ek stap sitkamer toe. O! Dierbaarheid! Voorwaar, die dak lek! Terwyl ek na die dak staan en kyk, sien ek hoe ‘n paar druppels langs ‘n nat strepie vorm en begin drup. ‘n Paar sentimeter verder is daar nog ‘n nat strepie wat begin drup…verder aan nóg een.
Die klein onrustigheidjie is nou groter en het ‘n naam – iets in die nuwe badkamer op die boonste vloer lek! Die bediende bring die besem met ‘n lap oor en vee die dak droog. Saam staan ons en kyk hoe die nat strepies weer druppeltjies vorm. Sommige daarvan het nou gevorder tot ‘n aanhoudende gedrup. Sy bring ‘n handdoek en lê dit neer om ‘n paar strepies se druppels op te vang.
“Nee, wat, dis net water wat êrens deurgesyfer het nadat die loodgieter al die krane getoets het”, praat ek myself moed in.
‘n Uur later “reën” dit in ons sitkamer en is die hele plek vol handdoeke en twee skottels onder die ergste lekke om al die water op te vang. Die nuwe bank is in die eetkamer en die televisie en kas heeltemal weggeskuif. Toe my man na werk opdaag het ek nie meer moed nie en is my Ghana-positiwiteit by die deur uit. Ek is vies, benoud en moedeloos….
Deur die naweek het die druppende water al hoe meer geword. Handdoeke was óf op die vloer óf in die tuimeldroër. Die plaaslike boustene – groot reghoekige blokke met groot gate in wat op straat gemaak en in die son gedroog word, het die lekkende water ongehinderd laat vloei. Ek en manlief het al hoe desperater en kwater geword hoe verder die naweek gevorder het. Maandag kon nie gou genoeg aanbreek nie.
Teen ongeveer twee-uur Maandagmiddag arriveer hulp in die vorm van ‘n ander loodgieter, aanbeveel deur een van die personeellede. Hy doen, anders as die jong loodgietertjie, reeds jare lank werk vir verskeie mense in die area. Hy kap die splinternuwe, duur teëls af om te sien wat aangaan. Teen hierdie tyd gee ek nie eers meer om oor die mooi gordyne en nuwe handdoeke wat ek so graag wou gehad het nie! Soos wat hy teëls stukkend kap, so spuit water uit beskadigde pype en koppelings! Die jong kamma-loodgietertjie se verswygde onvermoë al te duidelik!
Die redding in ons Ghanese badkamerblues? Die ervare loodgieter wat nuwe pype en koppelings behoorlik verseël het en waaroor nuwe teëls na nóg ‘n week netjies droog was.
En volgende Saterdag? Lekker skaaptjoppies op die kole al die pad van Suid-Afrika af gekarwei sonder kommer oor druppende water in die sitkamer.
Verder moet ek net sê: my man hét vir ons móói badkamers gebou.


