My man het ‘n ding oor ‘n badkamer. Eintlik oor ander vertrekke ook, maar dis gewoonlik ‘n badkamer wat hom eerste vang. Dis die eerste vertrek wat, nadat ons in ‘n nuwe huis ingetrek het, sy kreatiewe self laat regop sit en wat onvermydelik tot uitbreek van baddens, die afbreek van mure en die afkap van teëls lei.
Onverpoos tower hy rekenaarplanne op en spandeer ons Saterdae in badkamerwinkels om krane en stortkoppe se goed en sleg te vergelyk.
Ons Ghanese huis was niks veskillends nie. Ek het nuwe gordyne en beddegoed gedroom en hy nuwe badkamers.
“Ek gaan vir jou móói badkamers maak. Daar sal genoeg geld vir nuwe gordyne ook wees,” belowe hy.
Die volgende dag daag ‘n nutsman-teler-bouer op om te kwoteer. Na ligte prysonderhandelings breek hy en ‘n handlanger baddens, wasbakke, toilette en teëls uit die twee badkamers en gooi alles op ‘n hoop voor die voordeur.
Ja, regtig. Hierna klim almal oor die hoop bourommel om in die huis te kom.
Die nutsman vertrek na sy afbreekwerk met ‘n belofte om terug te keer nadat die loodgieter se werk agter die rug is.
In die leë badkamers word ‘n bloedjong loodgietertjie op aandrang van madam Fafa losgelaat. Hy moet pype verlê en nuwe koppelings maak. Die jongman is gekwalifiseer, verseker sy ons, maar sonder ‘n vaste werk. Vandaar dat hy soggens eers haar en ‘n vriendin se huise skoonmaak voordat hy sy lyf by ons kom loodgieter hou. My vroeg- opstaan-vroeg-begin-vroeg-klaarmaak manier van dinge doen gaan toe nou nie hier werk nie. O, Afrika gaan my omtiep!
“Ek hou van die jongman. Hy is stil, respekvol en dit lyk asof hy sy werk goed doen,” verklaar my man na dag twee.
“Kom, ek wil jou die teëls gaan wys wat ek gekies het.”
Twee keer hoef hy my nie te nooi nie. Ek is twee weke al in ‘n nuwe land, nuwe stad, het geen huis nie en is moeg daarvan om in sy kantoor te sit en lees.
Met Lawrence agter die motor se stuur op pad na die badkamerwinkel sit ek en kyk na die vreemdheid buite die motorvenster. Alles is anders. Honderde motors beweeg teen ‘n slakkepas met baie min erg aan gewone verkeersreëls. Rooi verkeersligte geld klaarblyklik nie vir motorfietsryers nie en ‘n straat gemaak vir twee bane word vyf.
By verkeersligte kan mens selfoonlugtyd, elektriese proppe, skoenpolitoer, lugverfrissers, geskilde waatlemoen, papaja, lemoene en les bes klein hondjies koop. Keurig gestapelde grondboontjies word met ‘n geoefende hand uit ‘n groot skottel op ‘n vrou se kop geskep, in ‘n sakkie gegooi en aan taxi-insittendes verkoop. ‘n Ander verkoop sakkies water uit ‘n soortgelyke skottel en ‘n derde gedroogde piesangs – of so lyk dit altans vir my. Hierdie vreeslose vrouens gee partykeer net een non-chalante tree na links of regs uit die pad van ‘n aankomende motor.
Soms maak een van hulle haar rug net so effens hol om ‘n motorfiets verbykomkans te gee en hou aan handeldryf uit die balanserende skottel op haar kop.Tussen alles deur vreet die oulikste bergbokkies van onsekere herkoms op die beknopte sypaadjies aan enigiets naastenby eetbaars en draai hulle gedweë van tussen motors terug wanneer iemand ‘n toeter druk.
Ek weet nie eintlik wat ek verwag het nie, maar die moderne badkamerwinkel waar ons na ‘n uur se gekruip deur die verkeer aangekom het, was ‘n verrassing.
Pragtige, moderne teëls, baddens, toilette en krane – enigiets wat ‘n kreatiewe badkamerbeplanner soos my man se hart begeer.
Ek oe en aa oor die mooi teëls en kraankurwes en sien in die proses al hoe minder nuwe gordyne op my horison, want alles is drie keer duurder as in Suid-Afrika.
Na twee ure in die winkel het ons alles. Goedkoperige toilette en wasbakke, duur krane en baie duur teëls. Ek sal alles so met verdrag kom aankoop soos dit nodig word.
‘n Paar dae later verklaar die loodgietertjie dat sy taak voltooi is totdat die teler sy deel kom doen het.
Die oorspronklike nutsman-teler-bouer het intussen na ‘n ligtelike loon dispuut besluit om nie terug te kom nie. ‘n Nuwe teler daag vanuit die niet op – so voel dit vir my – en pak die taak teen Afrikaspoed aan.
“My vrou, jy met jou oog oor die teler gaan hou. Ons kannie skewe lyne hê nie.”
Ag, jetetjie tog! Ek verpes ‘n bouery en teëls en alles wat daarmee gepaardgaan. Ek sal ‘n sentimeter skewe teël mis terwl manlief oor 2 milimeter al menige teler se moed in sy skoene laat sak het omdat hy moes afbreek en oorbegin.
Gelukkig lyk dit darem vir my hierdie keer asof die paar geplakte teëls teen ons badkamermuur reguit is. Ek is ook beïndruk toe ek sien dat dat die teler ‘n waterpas gebruik voordat hy die volgende teël vasplak. Ag, dankie tog! Hier is nou die een projek wat sonder moeilikheid sal verloop. Vol moed stap ek terug kantoor toe om die goeie nuus te rapporteer…
