Die ding van expat wees is dat ‘n mens nie noodwendig so op hoogte met jou vaderland se nuus bly nie. Dit kan as gevolg van omstandighede wees. Daar is immers nie koerantplakkate teen hierdie lamppale wat Suid-Afrikaanse nuus verkondig nie en wat jou dan nuuskierig genoeg maak sodat jy die koerant by die volgende verkeerslig koop nie. Dalk is die dataverbinding derdehands sodat elektroniese nuus baie skaars is. Verder is kuiertyd hier nie eksklusief met Suid-Afrikaners wat ‘n goeie bron van nuus kan wees nie. Meer dikwels is daar ‘n Brit, Australianer, Kanadees en ‘n Amerikaner of twee saam om die tafel sodat nuus uit Suid-Afrika nie hoog op die gesprekagenda is nie.
Dan is daar natuurlik keuse. Goed of sleg kies ek om so effens terug te staan en nie elke dag Suid-Afrikaanse nuus te gaan sóék nie. Ek maak darem periodiek ‘n draai op nuus webwerwe om so effens op hoogte van sake te bly. Dít het noodwendig tot gevolg dat ek soms oor ou nuus opgewonde, omgekrap of witwarm-kwaad word.
Hierdie keer het die nuus egter na my gekom deur ‘n vinnige draai op die Al Jazeera kanaal en dis toe een van die kere wat my mond spreekwoordelik, later letterlik, oophang met die luister na die program en toe met die lees van ‘n paar artikels op die internet. Ek gaan soek bietjie verder om doodseker te maak dat die joernaliste nie die stories uit die lug gryp nie – hoor en sien toe eerstehands die onsin, gebrek aan opleiding, opvoeding en gesonde verstand van ‘n betrokke COO op youtube. Ek wil lag, kwaad word, nie glo wat ek sien en hoor nie, alles gelyk, maar woorde het ek nie…..
Kyk eerder self.
![images[6]](https://sketchyanecdotes.wordpress.com/wp-content/uploads/2016/07/images6.jpg?w=363&h=210)