
Ek is al drie weke terug in Accra, Ghana, maar volgens my slimfoon is ek steeds in Tembisa buite Pretoria. In Pretoria was ek wél, maar Tembisa nog nooit. Die befaamde CSI agente van die televisieprogram wat ek so getrou kyk, gaan ver na my soek as hulle op my selfoon se “location” vertrou.
Noodwendig beteken expat-wees dat ‘n mens nie altyd op dieselfde plek is nie. Dis somtyds simpel-sleg. As ‘n mens hier is, verlang jy na Suid-Afrika en as jy daar is, voel jy soms ook maar vreemd en uit plek. Ek sal altyd aan Suid-Afrika en spesifiek aan Pretoria as my huis dink. Maar elke keer as ek ná ‘n besoek aan Suid-Afrika hier in die huis instap, voel dit ook soos tuiskoms. En dan voel ek soms so effens skuldig. Hoekom? My skoonma sê dat ‘n vrou met ‘n skuldgvoel gebore word. ‘n Vorige, belese kollega van my man het hierdie alomteenwoordige skuldgevoel aan ons Afrikaners se Calvinistiese opvoeding toegeskryf. Dalk is dit skryfkos vir ‘n ander dag.

Twee Saterdae gelede is ons by ‘n St Patrick’s dag kuier hier naby. Tipies soos sulke kuiers hier verloop, kan ‘n mens slegs met die mense aan die tafel gesels totdat die orkes begin speel. Die algemeen aanvaarde reël vir enige orkesoptrede is dat dit so hard as moontlik moet wees. Dit veroorsaak dat ‘n mens vreemde mense wat jy 15 minute gelede ontmoet het se persoonlike ruimte tot op die intieme vlak moet binnedring om in mekaar se ore te skree. Die alternatief, almal om die tafel sit en staar voor hulle uit, glimlag wanneer iemand oogkontak maak en drink meer as wat hulle beplan het. Wag vir stilte tussen liedjies sodat jy verder kan gesels en jy gaan lánk wag. Een liedjie vloei in die ander vir ‘n uur of meer. Goeie waarde vir geld vir die organiseerders, maar moeilik vir die gaste – of dalk Westerse gaste. Voordat die orkes begin speel het, het ons darem die standaard aanknopingspunte soos: “Hoe lank is julle al hier?” en “Waarvandaan is julle oorspronklik?” gedoen gekry. Onder die raserige musiek deur het my man, wat brawer as ek in sulke situasies is, verder geskree –gesels en gehoor dat dié twee jongmense ‘n heel unieke lewensbeskouing het. Hulle het besluit dat hulle professionele expats is. Hy, ‘n Australiër, het sy vrou, ‘n Kanadees ontmoet toe hy daar gewerk het. (Voordat hy daar aangeland het, was hy orals.) Nie een van die twee is gepla deur die feit dat hulle mense letterlik op die uithoeke van die aardbol van mekaar bly nie. Hulle hoop om teen die einde van die jaar in Suid-Afrika, spesifiek Johannesburg te kan wees indien sy werksaansoek suksesvol is. Hulle sal ‘n regmerkie langs Ghana maak as nóg ‘n land waar hulle was.
‘n Australiese paartjie met ‘n dogtertjie van vyf jaar oud en woonagtig in Bogoso, ‘n klein dorpie in die Weste van Ghana, verklaar ook dat hulle gaan waar daar werk is. Die feit dat hulle nie ‘n huis in Australië het om na toe terug te keer nie, is geen probleem nie.
Suid-Afrikaanse vriende met kinders hier in die laerskool, bly so hier en daar by familie en vriende wanneer hulle terug op vaderlandsgrond is. Die meubels en ander kosbare aardse besittings is in ‘n stoor of twee.
Sommige het die huis se deur toegetrek en hierheen gekom. Familie bly in die huis of dit word deur getroue bure of vriende opgepas. Wanneer daar ‘n kans vir ‘n besoek aan Suid-Afrika is, het hulle ‘n eie, bekende tuiskomplek omring deur alle aardse bekendheid.
Dit neem ‘n rukkie om in pas te kom met ‘n nuwe land se ritme, maar ek het geleer dat dit nie saakmaak wat my slimfoon sê nie, ék weet wat my “location” is. Dis waar my man is en my kinders en my ouers. Dis noodwendig verskillende tye en plekke, maar hoe bevoorreg is ek nie? Ek kan by meer as een plek in twee verskillende lande my skoene uitskop. ‘n Huis is stene en sement, maar tuiswees is om te wees saam met die liefste mense in my lewe.
![]()